Wonderlike Idees vir Tuinmaak in Potte

divider

DIY and how-to

Two hands holding a small terra cotta pot containing a spiky succulent plant, against a plain light background.

Wonderlike Idees vir Tuinmaak in Potte

Aanplanting in potte (houers) is ’n maklike manier om ’n groot verandering in u tuin aan te bring in net ’n kort tydjie. Houertuinmaak is ook ideaal as u ’n kleiner tuin het. Belê liefs in dieper potte vir someraanplanting, aangesien vlakkeres te gou droog word. Ons het ’n wye reeks potte en houers by ons drie takke in Bellville, Kenilworth en Milnerton. Anders kan u van u ou tuinpotte opdiep en opkikker met ’n vars laag terracotta of wit verf.

Die meeste kruisoorte groei baie goed in potte – plant dit buitekant u kombuisdeur of in ’n vensterbak in die kombuisvenster. Probeer ook kruie in ’n pot naby u braaiplek plant – dan is dit byderhand om marinades te maak. Rosemaryntakkies kan ook as vleispenne vir kebabs gebruik word.

As u kleurryke blomme wil hê wat sal gedy in potte op sonnige plekke, plant hierdie somerblomme daarin: floribundarose, petunias, gazanias, tuinvygies, malvas, grasangeliere, pelargoniums en gousblomme. Vir die beste resultate, voed plante in potte met ’n vloeibare blaarvoeding een keer per maand.
Dit is belangrik om te onthou dat potte gouer uitdroog as die grond in tuinbeddings. Voeg vogretensiekorrels, soos Aquasoil of Stockosorb, by u potplantgrond en hou u potte goed nat. In die somer sal u waarskynlik elke dag moet water gee. Dit help ook om die grond met klippies of gruis te bedek. Dit lyk mooi, verhoed dat die grond in winderige tuine wegwaai en help om die vog in die pot te hou.

Shop online

divider