Kies kleur die Winter

divider

DIY and how-to

Vibrant blue pansies bloom amidst a field of green foliage, with touches of yellow at their centres.

Kies kleur die Winter

Winter is nou amptelik oppad, maar dit beteken nie jou tuin hoef ewe grys te wees nie. Daar is ’n wye verskeidenheid plante wat in winter blom, en hul kleure is ook nie beperk tot die herfs-kleurskema van geel, oranje en rooi nie.

Volgens mnr. Robert Stodel, besturende direkteur van Stodels-kwekerye, is Meimaand die ideale tyd om winter saailinge te plant. Kies gesiggies of viooltjies vir diep skakerings van pers en blou, of plant asaleas en kamelias vir helder pienk aksente. Kamelias en asaleas sal maklik groei solank jy hulle gereeld water gee en met 3.1.5 voed. Jy kan ook ekstra kleur aan jou groente- of kruietuin verleen deur kappertjies in sonnige kolle tussenin te plant.

Blombolle kan ook nog dié maand geplant word. Kies jou blombolle sorgvuldig – hulle behoort ferm en vol te wees (behalwe ranonkels en anemone wat droog en verrimpeld is). Berei die grond goed voor met kompos en beenmeel voor jy die blombolle plant. Hou die grond mooi klam en hulle sal binne die volgende 90 dae begin uitskiet. Hou jou tuin mooi in die tussentyd deur bokbaaivygies en gesiggies bo oor die bolle te plant. Hulle sal jou blombeddings opkikker, en die blombolle sal sommer deur hulle uitskiet in die lente. Blombolle groei ook baie goed in potte, solank die grond in die potte goed dreineer. Die voordeel hieraan is dat jy maklik ‘n stoep of ’n vaal kolletjie kan verhelder deur dié kleurvolle potte rond te skuif.

Hou aan om jou rose met 3.1.5 te voed en gee hulle ten minste een keer ’n week water. Met die regte behandeling sal hulle tot Junie aanhou blom. Plant helder saailinge tussen jou roosbome vir blywende kleur as jy eers in Julie die roosbome met ’n snoeisker moet takel. Maar vir eers is dit tyd om die mooi herfsmaande te geniet – dis windstil, die weer is matig en jou plante groei sonder veel inspanning van jou kant af. Wat ’n fees!

Shop online

divider