Fokus op Karnivoorplante

divider

DIY and how-to

A close-up of the underside of a Venus flytrap plant, showing the reddish interior and spiky edges of the trap.

Fokus op Karnivoorplante

Karnivoorplante is plante wat insekte, of soms ’n groter prooi, vang, doodmaak en verorber om broodnodige voedingstowwe, soos stikstof, uit die omgewing in te kry.

Die plante kom gewoonlik voor in gebiede wat om die een of ander rede min voedingstowwe in die grond het. Die gewone oorsaak van ’n gebrek aan voedingstowwe is ook algemeen by die meeste plante in dié familie – hulle word aangetref in gebiede wat baie nat is.

Venus-vlieëvangers en Trompetbekerplante kom voor in nat, moerasagtige gebiede in die Verenigde State (waar hulle inheems is) en aangesien die water in dié moerasse ’n baie hoë suur-inhoud het, hou dit enige stikstof wat wel in die arm turfgrond aanwesig is, vas.

Karnivoorplante het ses basiese lokvalmeganismes:

Kleefmiddel – Die eenvoudigste lokvalmeganisme is die kleefmiddellokval. Die blare van die Pinguicula wat soos vlieëpapier is, het spesiale gesteelde kliere wat ’n taai slym afskei wat klein diertjies vang. Die kliere is gesteeld sodat die blaar nie in die slym smoor terwyl dit op ’n prooi wag nie. Die taai blare met vangarms is soortgelyk aan die blare wat soos vlieëpapier is, behalwe dat die vangarms verder kan reik om enigiets te vang wat naby kom.

Vangkuil – Vangkuillokvalle is blare wat aangepas is om soos ’n vangkuil te wees. Die Bromeliad carnivores (Brocchinia en Catopsis) is die eenvoudigste vangkuillokvalle waar die basis van die blaarkrans verseël is om ’n koppie te vorm waarin water opgevang word. Die prooi gly met die blare af in die waterpoel by die basis en verdrink. Die lokvalle kan nektar, helder kleure of ’n blomagtige reuk hê om die prooi aan te lok. Die ooppoellokvalle het waterpoele waarin slagoffers verdrink.

Kreefpot – Darlingtonia en Sarracenia psittacina het ’n lokval wat soortgelyk is aan die lokval wat gebruik word om krewe in te vang. ’n Kreefpot het ’n ingang wat die prooi maklik aan die buitekant kan opspoor en binnegaan, maar die ingang is moeilik om te kry of by uit te gaan van die binnekant af. As die prooi eers aan die binnekant is, maar die ingang opspoor of uitwerk, kan hy maklik uitkom. Darlingtonia en Sarracenia psittacina het ’n opening wat donker is, terwyl by die res van die lokval lig inkom deur wit selle wat areoles genoem word. ’n Prooi wat op lig fokus, kry gewoonlik nie die ingang nie en beland in die vangkuil of hoklokval wat deel van die blaar is.

Hoklokval – Genlisea-plante word in water of waterdeurweekte grond aangetref. Die prooi kom die lokval binne deur verby hare wat binnetoe wys, te druk. Wanneer hulle in die lokval is, kan hulle nie by die hare verbykom om weer uit te gaan nie. Dit is soos mensgemaakte hoklokvalle werk, behalwe dat dun metaalstawe pleks van hare daarvoor gebruik word.

Toeklaplokvalle – Die mees dramatiese lokval is die toeklaplokval van Dionaea muscipula en Aldrovanda vesiculosa. Die prooi beweeg in die lokval, skuur teen die snellerhare en die lokval omsluit die prooi blitsig. Anders as toeklaplokvalle met skarniere wat deur mense gemaak word, buig dié toeklaplokval die helftes van die lokval om sodat dit die prooi omsluit. Die lokval verseël en die prooi word verorber, waarna dit weer oopgaan.

Suiglokval – In die suiglokval van die utricularia skuur die prooi teen snellerhare wat aan die valdeur verbind is. Wanneer die lokval “gestel” is, is dit onder negatiewe druk teenoor sy omgewing en wanneer dan meganies aan die valdeur getrek word, word die prooi, saam met die water waarin dit is, in die lokval ingetrek. Wanneer die lokval vol water is, maak die deur weer toe; die hele proses duur slegs ’n tien- tot vyftienduisendste van ’n sekonde.

Karnivoorplante het gewoonlik helder kleure, vreemde vorms en interessante eienskappe, sodat dit prettige, opvoedkundige plante is om te kweek. Dié plante kan maklik wees om te kweek as deeglik nagevors word waar die plant vandaan kom en watter toestande ’n spesifieke spesie nodig het om te gedy.