Fokus op Cymbidiums

divider

Indoor plant tips

Yellow cymbidium orchid flowers with intricate maroon markings in their centers, showcasing their delicate beauty against a soft green backdrop.

Fokus op Cymbidiums

Cymbidiums word beskou as die koningin van winterhuisplante – hul pragtige blomme verskaf maande van kleur van Junie tot September. Die woord Cymbidium kom van die Griekse woord “kymbe”, wat beteken ’n boot en verwys na die holte in die middelste gedeelte van die blom. 
Cymbidiums is maklik om te kweek, met sukses feitlik gewaarborg, en is uitsonderlik vrygewige plante. Hulle bring baie groot, pragtige blomme voort en word gereken as een van die bekendste en gewildste orgideë. Die genus bestaan uit ongeveer 50 spesies en duisende hibriede is hieruit gekweek.

Die tipiese groeivorm van Cymbidium-orgideë is nogal uniek. Hoewel hulle kammabolle het (geswolle stamme wat water en kos berg), word dit bedek deur ’n basisskede van lang, geboë, lintvormige blare. Blomstingels kom uit die basis van die kammabolle en kan moeilik onderskei word van die nuwe groei in hul vroeë stadiums. Gewoonlik is daar 7 – 12 blomme aan ’n geboë of regop blomstingel, maar 20 of meer blomme is nie ongewoon vir sommige soorte nie. Soos by alle plante het hulle lig, lug, water, voeding, ’n ondersteuningsmedium en soms plaagbeheer nodig.

Wil u weet hoe om die beste uit u cymbidium te kry? Volg dié oorsiglys:

Plek – Sit u cymbidium op ’n beskutte plek uit direkte son en wind. Dit sal gedy op ’n plek wat warm is, met helder lig en goeie ventilasie. As dit te min lig kry, sal dit nie goed blom nie. Sit dit in die winter binnenshuis of op ’n beskutte patio op ’n plek wat oggendson en lig in die laatmiddag kry. In die somer kan dit onder bome gesit word wat gefilterde lig gee of op ’n skaduryke patio. Binnenshuis moet dit langs ’n venster gesit word wat helder lig kry, maar sorg dat daar geen trekke is nie.

Temperatuur en vogtigheid – Cymbidiums sal temperature so laag soos -2 grade Celsius verdra, maar as u tuin swaar ryp kry, moet u die plant beskerm. Vogtigheid is baie belangrik vir cymbidiums. Die plant begin ongemaklik voel wanneer dit minder as 40% vogtigheid ervaar. Plaas dus die plant op ’n bak met klippies wat in water lê.

Lig – Cymbidiums hou van gespikkelde sonlig of ongeveer 50% skadu. Die plante kan in die somer buitenshuis  gesit word, mits dit nie in direkte sonlig is nie. ’n Paar uur van flou oggendsonlig en skaduryke middae is perfek.

Watergee – Moet die plante nooit laat uitdroog nie en hou die potplantmedium altyd klam. As die grond te veel uitdroog, sal die blomme die volgende jaar swak wees. Water een keer per week is gewoonlik voldoende, maar in die warm somermaande sal dit dalk nodig wees om twee keer per week water te gee. Probeer om in die oggend water te gee, voor die middel van die dag, wat die moontlike verlies van nuwe groei sal voorkom. Moet nie water gee as die grond in die pot nat is nie.

Voeding – Moet cymbidiums liefs nie oorvoed nie. Maar die regte hoeveelheid kunsmis is wel belangrik vir bolgroei en ’n gevolglike goeie blomproduksie die volgende jaar. Voed hulle in die lente met ’n gebalanseerde orgideëkunsmis of stadig vrystellende kunsmis volgens die aanbevole sterkte en ’n vloeibare kunsmis in die groeiseisoen. Vermy ’n kunsmis met ’n hoë stikstof-inhoud, want dit sal vinnige blaargroei bevorder  ten koste van blomme.

Blomvorming – Die cymbidium se blomvorming word geaktiveer deur ’n kombinasie van laer temperature en minder water. Die miniatuur-soorte is meestal gekruis met kweekhuisorgideë, dus is hulle nie so afhanklik van koue weer om te blom nie. Die natuurlike blomseisoen is in die winter, wanneer u plante binnenshuis behoort te wees en vertoon kan word. Cymbidium-blomme word aan blomtakke gedra, met blomare wat elke seisoen by nuwe kammabolle uitloop.

Herplanting en verdeling – Die beste tyd om Cymbidiums te herplant en te verdeel, is tussen die einde van Februarie en die einde van Junie. Die plante groei altyd beter as hulle ingeperk is. Herplant in plantpotte waar daar net genoeg ruimte vir die volgende jaar se groei is. Moet nie die plant te dikwels verdeel nie, aangesien dit blomvorming sal benadeel. Elke deel moet minstens drie volwasse bolle met blare hê. Gebruik ’n mengsel van bas en veen as potplantmedium (moet nooit tuingrond gebruik nie) en maak die standaar dreineringsgate wat aan die onderkant van die meeste plastiekpotte is, groter. Moet nooit die medium heeltemal laat uitdroog nie. Begin water gee wanneer die nuwe dele begin wortelskiet.

Peste en siektes – Lig u orgideë buitenshuis van die grond af, aangesien slakke en naakslakke die grootste vyande van dié plante is. Gereelde gebruik van slakaas (’n klein bietjie om die plante elke twee weke in die blomseisoen) bied goeie beheer. Dopinsekte kan twee keer behandel word met Malathion, met ’n tussenpose van twee tot drie weke. Rooimyt kan behandel word met Spidermite-sproei (volg asseblief die aanwysings noukeurig). In die geval van vrot en swamsiekte moet die plant uit die pot gehaal, skoon gemaak en al die aangetaste weefsel uitgesny word. Die wonde moet met swael bedek word en die plante in ’n nuwe potplantmengsel herplant word.

Cymbidium-orgideë is te kry by ’n Stodels-tak naby u.

Shop online

divider