Fleurig en Geurig

divider

DIY and how-to

Close-up of a young child's nose smelling purple lavender flowers.

Fleurig en Geurig

Geur het die vermoë om ons gees te verkwik en te kalmeer. Die lewe is ‘n tuin, vul dit dus met heerlike somersgeure deur welriekende struike aan te plant.

Die lewe is ‘n tuin wanneer jy dit met welriekende blomme en loof vul. Die geur wat deur sommige struike vrygestel word, hetsy indringend of subtiel, kan van die tyd van die dag, die temperatuur of die son en wind afhang. Dit mag vrylik en oor groot afstande deur die lug sweef of die plant moet gevryf of gekneus word om die geur vry te stel.

Welriekende plante moet liefs op plekke in die tuin geplant word waar daar dikwels vertoef word sodat ‘n mens die heerlike geure ten volle kan benut. Ons toon ‘n paar geskikte plekke aan en plante wat betowerende geure afgee:

Onthaalareas. Plant die pers en wit verbleikblom (Brunfelsia pauciflora), die inheemse, rypbestande olienhout (Buddleja saligna) of saliehout (Buddleja salviifolia), en September-klokkies (Rothmannia globosa) met hul roomkleurige, klokvormige blomme. Die maanblom (Brugmansia spp.) stel sy adembenemende geur saans vry. Wees net bewus daarvan dat maanblomme uiters giftig is – vandaar dat hulle ook as hekseblomme bekend staan.

Tuinbankies Bankies word dikwels op ‘n beskutte plekkie geplaas waar die geure bly hang, dus kies ‘n portwyn magnolia (Michelia figo), waarvan die blomme ‘n verrassende piesanggeur het, en immergroen Murraya paniculata met sy ryklik gegeurde blomtrosse. Hierdie murraya kan ook in ‘n ronde vorm of ‘n suiglekkervorm gesnoei word. Beskerm hierdie struike in die winter teen ryp.

Paadjies. Klein aromatiese struike soos laventel en roosmaryn stel hul geur vry wanneer die plante aangeraak word of wanneer daar teen hulle geskuur word. Nog ‘n laaggroeiende plant wat oor ‘n laventelgeur beskik, is die lavantelkatoen (Santolina chamaecyparissus). Hierdie plant het fyn gesnipperde silwergrys blare en piepklein pompom-agtige geel blommetjies in die somer.

Probeer ook pelargoniums met hul welriekende blad wat in ‘n verskeidenheid loofgeure voorkom soos suurlemoen, lemoen, rose, peperment en neutmuskaat. Pelargonium ‘Mozzie Buster’ verleen die geur van sitronella-olie, wat ‘n uitstekende afweermiddel teen muskiete is.

Vensters.  Laat die delikate geur van die was-agtige wit blomme van die sierlemoen (Philadelphus coronarius) en die heuninggeurige klein trompetblommetjies van die rypbestande Freylinia lanceolata na binne stroom.

Shop online

divider