Binnetuine

divider

Indoor plant tips

Binnetuine

Soos tuine kleiner raak, skep plantliefhebbers al meer groen hawens in hul huise.Ongeag die styl van u binneversiering, u sal ’n plant en houer kry wat dit perfek aanvul.

As u heeljaar deur kleur wil hê om ’n retro-dekor te beklemtoon, kies crotons, caladiums of bontblaar-begonia (Begonia rex) met hul helderkleurige blare. Usambara-viooltjies, krisante, asaleas en orgideë pas by ’n klassieke dekor, terwyl potte met varings en impatiëns en hangmandjies met rankplante ideaal is vir ’n landelike voorkoms.

Sukses met huisplante

Huisplante het ’n bietjie basiese sorg nodig om ten beste te vertoon. Kyk hulle twee keer per week goed deur om te voorkom dat probleme ontwikkel. Nog ’n wenk is om nie die blare van harige, sagteblaarplante te laat nat word nie. Die basiese reëls vir huisplante is soos volg:

Kies die regte plek

Verskillende huisplante het verskillende ligvereistes. Sommige hou van helder lig met ’n paar uur van sonskyn, soos kalanchoe en krisante. Party het helder lig nodig, maar nie direkte sonlig nie, soos cymbidium orgideë, siklame, asaleas, bontblaar-begonia en crotons. Party verkies selfs minder lig, byvoorbeeld Zebrina pendula.

Kies die regte grond

Potplantgrond voorsien die aanvanklike voedingstowwe wat ’n plant nodig het en dit laat vogretensie toe, terwyl oortollige water kan dreineer. Kies dus altyd ’n voorafbereide potplantmengsel wat spesifiek geformuleer is vir huisplante en baie organiese materiaal bevat. Waterbehoudende korrels en ’n deklaag sal help dat die grond water behou.

Kies die regte houer

’n Pot wat te klein is, laat ’n plant topswaar lyk en perk groei in, terwyl ’n houer wat te groot is, die plant oorweldig, wat dit ondervoed en onversorg laat lyk. Òf u direk in u gekose houer plant òf dit net as versiering om die plantpot gebruik, kies ’n dekoratiewe houer wat nie meer as 5 cm wyer as die kwekerypot is nie.

Ken u plante se watervoorkeure

Sommige plante hou daarvan om deurgaans klam te wees, soos asaleas, siklame en cymbidium, waar ander eerder wil uitdroog tussen natmaaktye, soos Usambara-viooltjies, krisante en cinerarias. Maar geen plante hou van deurweekte wortels nie, dus moet dit goed dreineer. Sit ’n paar spoelklippies onderin die houer vir dreinering. As die dripbakkie onder die houer vol water loop, hou op watergee vir ’n paar dae. As die grond ná ’n tyd nie wil nat word nie, voeg ’n grondnatmaakmiddel elke ses maande by volgens die aanwysings.

Gee gereeld kunsmis

Gee minstens een keer per maand kunsmis tydens die groeiseisoen. Gebruik gewone tuinkorrels of vloeibare kunsmis, of die poeier, stokkies of korrels wat vir huisplante bedoel is. Maak goed nat nadat kunsmis gegee is.

Huisplante vir elke vertrek

Perfek vir badkamers – Aangesien dié vertrekke gewoonlik medium tot min lig kry en baie vogtig is, kies plante wat sulke toestande kan weerstaan, soos hen-en-kuikens, varings, die vaasplant (Aechmea fasciata), aglaonema, “dumb cane” (Dieffenbachia spp.), “peace lily”, philodendron en kaktusse (Schlumbergera-kultivars).

Onkonvensionele plante vir tieners – Ongewoon en anders is die sleutel tot huisplante vir tieners. Oorweeg olifantsoor, aalwyne, veelkleurige anthurium, die “pony-tail” palm, kaktusse, bromelliads, ficus met ’n gedraaide stam, vleisetende plante, swartblaar fittonia, die spiraal-juncus, pedilanthus, rank-philodendron, skoonma-se-tong, varklelies met swart blomme en yucca.

Helder die tuiskantoor op – ’n Huisplant in die tuiskantoor bied ’n fokuspunt vir oë wat moeg van die rekenaar is. Plantblare hou die vertrek ook vars deur koolsuurgas uit die lug te absorbeer. En as u ’n helderkleurige plant kies, bied dit stimulasie vir die brein. Voorbeelde sluit in die helderrooi blomme van anthuriums, columnea, gerbera, amarillis en kalanchoe en die rooiblaar Begonia rex, Caladium bicolor en croton-variëteite.

Vrolike kleur vir kombuise – Kruie wat op ’n sonnige vensterbank aan die oostekant groei, is een moontlikheid vir die kombuis. As dit nie gedoen kan word nie, oorweeg ’n plant met vrolike geel of oranje blomme wat ’n andersins funksionele vertrek sal ophelder. Dink aan krisante, Barbertonse madeliefies, kalanchoe, nertera, wortelknol-begonias en polyanthus primula. ’n Ornamentele brandrissie sal helder kleur gee en nuttig wees vir die sjef!

Plante met min versorging vir patio’s – Die nuwe neiging vir patio-plante is waterwyse vetplante. Dis die ideale patio-plante wat min versorging nodig het, veral in warm streke. Dit pas ook by die hedendaagse dekorstyl wat nou gewild is. Baie inheemse vetplante is ideaal, sowel as ’n paar eksotiese soorte, soos dramatiese kaktusse – maar pasop vir hul dorings! Voorbeelde is agaves, aalwyne, Euphorbia spesies, donkie-oor (Kalanchoe beharensis), “pony-tail” palm, halfmens (Pachypodim spp.), skoonma-se-tong (Sanseveria spp.) en yucca.