Sorg so vir jou Huisplante

divider

Indoor plant tips

Sorg so vir jou Huisplante

Huisplante is van die maklikste plante om gelukkig te hou in die winter, sê mnr. Robert Stodel, besturende direkteur van Stodels-kwekerye. Om die waarheid te sê, die algemene huisplant vaar beter met te min water as met te veel. Die wintermaande is `n rusperiode vir plante en hulle het baie minder water nodig as in die somermaande.

`n Goeie riglyn is om jou plante elke tien dae goed nat te maak. (Wag totdat die boonste laag grond heeltemal uitgedroog het voordat jy weer water gee.) Die ander belangrike faktor is die temperatuur van die water. Huisplante verpes yskoue water. Maak dus seker dat jy altyd louerige water gebruik. Daar is verskeie metodes om jou plante nat te maak.

Wissel die volgende drie metodes af vir die beste resultate :

  • Water van bo af, sodat die water op die grond val;
  • Water van onder af, direk in die drupbak in;
  • Dompel die hele plant in `n diep bak water sodat die water van onder af in die grond kan intrek.

Baie min mense is bewus van die feit dat huisplante gewas moet word. Omdat hulle nie buite in die wind en reën staan nie, is hulle geneig om ‘n stoflagie op te tel. Die plant sal sukkel om asem te haal indien die stof te dik op die blare begin lê. Die beste manier om jou plante te was is om hulle met `n nat lappie af te vee. Jy kan hulle ook elke nou en dan buitentoe dra en onder die besproeiingstelsel laat staan. Maak het seker die sproei is nie te hard nie.

`n Huisplant wat goed groei sal van tyd tot tyd oorgeplant moet word in `n groter pot.

Hier is `n paar tekens dat jou plant dalk ‘n groter pot benodig :

  • Die nuwe blare is kleiner as die oorspronlike blare;
  • Die plant het ophou blom;
  • die grond droog baie vinnig uit.

Hoe maak mens as jou plant wel ‘n groter huis benodig?
Kies `n pot wat omtrent dubbel die grootte is van die vorige een. Water die plant goed om die grond sag te maak. Vul die helfte van die nuwe pot met `n grondmengsel (“potting soil”). Haal die plant versigtig uit die ou pot uit en maak seker dat jy nie die wortels beskadig nie. Plaas die plant in die nuwe pot en druk dit versigting in die grond in. Water weer die plant en voed dit met `n voedingsmiddel soos Nitrosol.

Skakel gerus een van Stodels se takke indien u enige navrae het: Bellville (021-9191106), Kenilworth (021-6719050), Milnerton (021-5284000) or Constantia (021-7942221).

Shop online

divider