Kweek u eie Blaarslaai

divider

Kitchen gardening

Kweek u eie Blaarslaai

Met die warm somermaande wat voorlê, kom niks daarby om blaarslaai vir slaaie in jou eie agtertuin te pluk nie. Behalwe dat dit die basis vir die meeste slaaie is, lyk blaarslaai ook baie mooi in tuinbeddings en houers. Deur variëteite in verskillende kleure te plant, kan jy sorg vir ’n pragtige vertoning.

Stap vir stap gids oor hoe om u eie blaarslaai te kweek :

  • Blaarslaai kan baie suksesvol van saad gekweek word, maar omdat dit reeds warmer geword het, is dit die beste om blaarslaai-saailinge te koop en direk in u tuin te plant (die saad van blaarslaai sukkel om te ontkiem in temperature bokant 27°C).
  • Kies ’n plek in die tuin wat gedeeltelike son kry. Spit die grond goed deur en verwyder klippe en ander afval.
  • Voeg ’n ruim hoeveelheid algemene kunsmis en goed bewerkte mis by die grond. Dit sal verseker dat die grond vog behou, maar tog goed dreineer. Daarby is dit ryk aan stikstof, wat noodsaaklik vir blaarvorming is.
  • Plant saailinge 15-40 cm van mekaar, afhangend van die variëteit (kyk vir aanwysings op die saailingbakkie). As u twyfel, laat eerder te veel as te min plek toe, want swak lugsirkulasie kan tot swamsiektes lei.
  • Hou die grond klam, maar probeer om nie saans nat te maak nie, aangesien nat blare oornag vatbaar vir siektes is.
  • Voed die slaaiplantjies elke twee weke met voeding wat hoë vlakke stikstof bevat, soos Nitrosol.
  • U kan blaarslaai begin oes wanneer die blare groot genoeg vir gebruik is. “Kopsoorte” moet geoes word wanneer die koppe ferm en ten volle gevorm is.

Het u geweet? – Blaarslaai is ’n bron van vitamiene A en K en foliensuur