Kweek u eie Beet

divider

Kitchen gardening

Kweek u eie Beet

Beet is een van die maklikste groentesoorte om in u tuin te kweek. Dit is ook baie veelsydig, aangesien dit vars geëet, vir ’n paar weke gebêre of ingelê kan word om maande later te gebruik. Dit is in twee hoofvariëteite te kry: rond (met ’n ronde knol) en lank (wat soos die vorm van ’n witwortel lyk).

Hier is ’n paar wenke om u te help om u eie beet met sukses te kweek :

Stap vir stap gids om self beet te kweek :

  • Beet groei die beste in gedeeltelike of volson, maar u moet gereeld water gee op baie sonnige plekke sodat die grond nie uitdroog nie.
  • Berei die grond vooraf voor deur dit tot op ’n diepte van minstens 30 cm uit te spit. Haal alle klippe en stokke uit, want dit kan die ontwikkeling van die knolle benadeel. Die ideale grond moet lig en brokkelrig wees  – baie swaar kleigrond sal die ontwikkeling van u beetplante beperk.
  • Saai beetsaad in rye wat 30 cm van mekaar is, op ’n diepte van ongeveer 3 cm. Hou die grond klam totdat die saad ontkiem het en die saailinge bokant die grond sigbaar is.
  • Wanneer die saailinge ongeveer 5 cm hoog is, dun dit uit tot die regte spasiëring – ongeveer 10 cm vir die ronde variëteit en 15 cm vir die lang soort.
  • Die ronde variëteite moet geoes word wanneer die deursnee van die knol 7.5 cm is. Die lang soorte neem langer om te ontwikkel en kan in die grond gelaat word totdat dit ongeveer 15-20 cm lank is.
  • Wanneer u oes, spit versigtig met ’n troffel onder die knol sodat dit nie beskadig word nie, aangesien dit ’n invloed het op hoe lank u die beet sal kan bêre.

Het u geweet? Die blare van beet is ook eetbaar. Gebruik dit in slaai pleks van blaarslaai of as ’n plaasvervanger vir spinasie.

Shop online

divider