Kruie – Sitroenkruid

divider

Kitchen gardening

Sitroenkruid

Sitroenkruid (Melissa officianalis) is ’n kompakte, meerjarige kruisoort met ’n suurlemoengeur wat klein wit blommetjies in die somer dra. Die blomme is vol nektar wat bye aanlok en vandaar die genusnaam Melissa (Grieks vir heuningby).

Plantwenke :

  • Plant sitroenkruid in klam, vrugbare grond op ’n plek wat oggendson en middagskaduwee kry.
  • Dit kan ook binnenshuis as ’n krui in ’n pot gekweek word, mits die pot voldoende dreinering het.
  • As dit in die tuin gelos word, sal dit vanself saai en vinnig versprei – jy sal dit dalk elke jaar drasties moet terugsnoei om te keer dat dit oorneem.
  • Die blare van sitroenkruid moet liefs vars gebruik word, pas nadat dit gepluk is, want dit verloor sy geur wanneer dit droog is.
  • Die beste manier om die blare van sitroenkruid te bewaar, is om dit met water in ysbakkies te vries.

Gebruike :

  • Sitroenkruid het ’n subtiele suurlemoensmaak, wat baie nuttig is as jy ’n bietjie suurlemoengeur by ’n gereg wil hê sonder dat dit die gereg oorheers.
  • Voeg gekapte blare van sitroenkruid by slaaie, eiergeregte, mayonnaise en marinades vir vark en hoender.
  • Dit kan ook as plaasvervanger vir salie gebruik word vir die stop van vark, kalfsvleis, hoender of by pasta.
  • Sitroenkruidtee is ’n uitstekende spysverteringsdrankie om ná ’n swaar ete te bedien. Laat trek vars blare in kookwater en voeg heuning as versoeter by, indien verlang.