Kruie – Basielkruid

divider

Kitchen gardening

Basielkruid

Elke kruietuin moet een of twee basielkruidplante hê. Die goeie nuus is dat dié krui, wat tradisioneel ’n jaarplant is, nou ook as meerjarige te kry is, soos meerjarige pienk basielkruid, “sacred basil” en “columnar basil”, dus hoef u nie elke jaar nuwe saad te saai nie. As u egter die jaarplant verkies, is daar ’n wye verskeidenheid variëteite beskikbaar, van sitroen – en kaneelbasielkruid tot mentbasielkruid en pers variëteite, soos Dark Opal en Purple Ruffles.

Plantwenke :

  • Kies ’n plek in u tuin wat oggendson kry en waar die grond goed dreineer. Verwyder enige stokke en klippe uit die grond en voeg baie kompos by.
  • Saai saad 3 mm diep en hou die grond klam totdat ontkieming plaasvind (gewoonlik binne die eerste 7 dae).
  • Sodra die saailinge goed gevestig is, dun dit uit totdat die laaste plante 30 cm van mekaar is. Knyp die groeiende blompunte uit om die vervaardiging van meer blare aan te moedig.
  • Te veel water of swak dreinering kan lei tot ’n toestand wat ”boytris” genoem word en as swart vlekke op die blare verskyn. Verbeter die dreinering van die grond deur bas of growwe kompos by die grond te voeg.
  • Basielkruidblare moet geoes word soos dit benodig word, aangesien dit nie goed in die yskas gebêre kan word nie. U kan hele stingels pluk en dit in ’n fles water in u huis sit – dit sal só ’n paar dae lank hou.

Gebruike :

  • Basielkruid is ’n uitstekende metgeselplant vir tamaties, aangesien dit plantluise, vrugtevlieg en kewers afweer en glo die smaak van tamaties wat naby groei, verbeter.
  • Basielkruid is ’n noodsaaklike krui vir sowel die Italiaanse as Thaise kookkuns – maak seker u voeg die blare aan die einde van die gaarmaakproses by om die delikate geur te behou.
  • Meng basielkruidblare met olyfolie, parmesaankaas en dennepitte om u eie pesto te maak.
  • Vryf vars basielkruidblare op insekbyte en steekplekke om die gejeuk te verlig