In Volle Blom – Agapant

divider

DIY and how-to

In Volle Blom – Agapant

Agapante word langs so baie paaie in Suid-Afrika gesien, dat ons geneig is om te vergeet hoe skouspelagtig hierdie plante regtig is. Danksy die slim kweekprogramme, is hierdie inheemse skatte nou in ’n wye reeks treffende variëteite te kry.

Die Agapant is ongetwyfeld een van ons inheemse botaniese skatte. Dit is na alle uithoeke van die aarde uitgevoer, maar kom net in Suider-Afrika in die natuur voor, waar dit wild groei in al ons provinsies, behalwe die Noord-Kaap, sowel as in Lesotho, Swaziland en Mosambiek.

Die naam agapanthus kom van die Griekse woorde agapé (liefde) en anthos (blom) en beteken dus letterlik “blom van liefde”. Plaaslik word dikwels daarna verwys as die bloulelie, isicakathi (Xhosa) en ubani (Zoeloe), terwyl dit in Europa en Amerika bekend staan as die Afrika-lelie.

Die Agapant word in baie tradisionele rituele en geneesmiddels in Suider-Afrika gebruik. Xhosa-vroue maak ’n halssnoer van die wortels van die plant om gesonde, sterk babas te verseker, die Zoeloes gebruik die plant om hartsiektes en verlamming te behandel en daar word gesê dit verlig die moeë en geswelde voete van stappers wat hul voete vir ’n halfuur in die blare toedraai. Om die waarheid te sê, wetenskaplike studies het aan die lig gebring dat die agapant wel verskeie chemiese samestellings bevat wat anti-inflammatoriese eienskappe het..

Agapante dra groot trosse (blomskerms genoem) tregtervormige blomme boaan lang stele. Die kleur van die blomme wissel van die bekende bloupers skakerings tot wit en selfs pienk variëteite en die plante groei van net 20 cm vir sekere dwergvariëteite tot 2 m hoog vir groter variëteite. Hulle is uitstekende snyblomme en hou tot tien dae in ’n blompot, hoewel die donkerder kleure neig om te verbleik wanneer hulle binnenshuis is.

Soorte Agapante

Die Agapant-familie sluit twee immergroen spesies, naamlik Agapanthus africanus en Agapanthus praecox in en vier bladwisselende spesies – Agapanthus campanulatus, Agapanthus caulescens, Agapanthus coddii en Agapanthus inapertus. Die immergroen spesies is inheems aan die winterreënvalstreke van ons land, terwyl die bladwisselende spesies van die somerreënvalstreke in Suider-Afrika kom.
Kweekprogramme het ’n wye verskeidenheid opwindende dwerg- en mediumhoë Agapante met groot blomme tot gevolg gehad.

Hier is ’n paar van ons gunsteling-variëteite

  • Agapanthus Praecox “Blue Ice” dra blomme met ’n donkerblou basis wat verdof tot suiwerwit aan die buitekant. Hulle vorm bosse en groei tot ’n hoogte van 115 cm. Dié variëteit blom van vroeg- tot middelsomer.
  • Agapanthus Praecox “White’” is ’n groot variëteit wat vroegsomer blom en groot wit blomme aan lang stele voortbring.
  • Agapanthus “White Ice” is ’n mediumhoë variëteit met wasagtige wit blomme wat van die lente tot die einde van die somer blom.
  • Agapanthus Africanus “Double Diamond” is ’n mooi dwergvariëteit met helderwit dubbele blomme en geel meeldrade. Hy blom oorvloedig en is ideaal vir tuinuitleg, in houers of as randplante.
  • Agapanthus “Amethyst” is ’n dwergvariëteit met ligpers blomme en ’n donkerder “ametis-streep” in die middel van elke blomblaar af.
  • Agapanthus Africanus “Peter Pan” is ’n immergroen agapant wat omtrent 50 cm hoog word en baie groot hemelsblou blomme in die laatsomer voortbring.
  • Agapanthus “Snowball” is ’n dwergvariëteit wat nie hoër as 30 cm word nie, met groot wit blomme op ’n dik steel.
  • Agapanthus “Storms River” is ’n immergroen variëteit wat in middelsomer blom en ligblou blomme dra. Die plante is gehard en het breë blare wat soos bande lyk.
  • Agapanthus “Purple Cloud” word beskou as een van die mooiste variëteite. Dit word omtrent 130 cm hoog en dra groot persblou blomme.
  • Agapanthus “Selma Bock” is ’n laatblommende immergroen variëteit wat pragtige wit blomme met ’n blou keel dra. Dit is ’n geharde plant met donkergroen blare.
  • Agapanthus “Lilac Flash” is ’n variëteit van mediumhoogte wat mooi lilapers blomme in middelsomer voortbring. Dit verdra ligte skadu.

Waar om dit te plant

Die Agapant vereis nie baie aandag nie en kan ook droogtetye goed deurstaan weens sy dik, vlesige wortels waarin water en kos geberg word. Hulle sal egter gedy in volson in ryk grond wat goed dreineer, met baie kompos. Die groter variëteite lyk goed as dit in groot getalle in die agterkant van blombeddings geplant word, terwyl die kleiner variëteite uitstekend is as randplante en in rotstuine. Agapanthus praecox help ook om gronderosie te voorkom op skuinstes in u tuin en vaar goed in kustuine, aangesien hulle die sterk wind en soutlug kan weerstaan.

Basiese versorging

  • Maak agapante een keer per week diep nat in die lente en somer (twee keer per week as die weer baie warm en droog is).
  • Voed agapante tweeweekliks in die lente en vroeë somer met ’n gebalanseerde stadigvrystellende kunsmis soos 3:1:5.
  • In baie koue streke moet agapant-risome teen ryp beskerm word deur voor die winter ’n dik laag strooi of droë sand om die plante te sit. Verwyder dié laag in die lente wanneer plante weer begin groei.
  • Lig en verdeel (sien “Lig en verdeel”) immergroen variëteite elke vier jaar om maksimum blomvorming aan te moedig.
  • Verwyder verwelkte blomkoppe om te voorkom dat die plant self saad saai en u tuin oorneem.

Lig en verdeel

Gereelde verdeling van agapant-bosse is noodsaaklik om te verseker dat u plante steeds goed blom. Die beste tyd om die plante uit te lig en te verdeel, is laat in Maart nadat hulle klaar geblom het. Immergroen variëteite moet elke vier jaar verdeel word, terwyl die bladwisselende soorte beter vaar as hulle elke ses jaar verdeel word.

Gebruik ’n tuinvurk om agapant-bosse uit die grond los te wikkel. Verdeel die bos in drie dele met die skerp kant van ’n tuingraaf. Gooi die middeldeel weg en herplant die buitenste twee dele nadat die blare met die helfte teruggesny is en die wortels tot tweederdes van hul lengte. Herplant in goed gekomposteerde grond en maak goed nat.

Plantgids

Maand Planttyd Verplanttyd Blomtyd Snoeityd Bemestyd
Januarie X X X X
Februarie X X X X
Maart X X X
April X X
Mei X X
Junie X X
Julie
Augustus X
September X X X
Oktober X X X
November X X X
Desember X X X

Siektes

Agapant-plante is gewoonlik redelik bestand teen peste en siektes. Die volgende toestande kan wel voorkom :

  • Bruin merke op die toe blomknoppe is ’n teken van botritisvrot, ’n swamsiekte. Botritis kan behandel word deur die blomknoppe met ’n swamdoder te bespuit voor en nadat dit oopgegaan het.
  • Die blare sterf terug van die punt na die basis. Dit kan veroorsaak word deur ’n swam, Macrophoma agapanthii. Bespuit die hele plant met ’n swamdoder.
  • Slakke skuil graag in die blare van agapant-plante. Gelukkig rig hulle nie veel skade aan die plante nie en die beste is om hulle net met die hand af te haal wanneer u hulle sien.
  • Geel blaarpunte dui op te veel water of waterdeurweekte grond. Stel dit reg met die byvoeging van ekstra organiese materiaal, soos kompos of basstukkies, by die grond.
  • Groot getalle agapant-plante het onlangs in die Wes-Kaap doodgegaan. Daar word geglo dat dit veroorsaak is deur ’n onbekende wurm wat in die stam van die plant afboor en uiteindelik die risoom verorber. Die wurm is gespikkel en het ’n rooi kop. Die beste manier om vas te stel of u plante besmet is wanneer dit begin doodgaan, is om die risoom oop te maak om vir tekens van die parasitiese wurm te soek. Om aanvalle van dié wurm te voorkom, verwyder gereeld alle verbleikte blare en plantafval en voed goed met ’n blaarvoeding in die lente.

Het u geweet? Agapant-plante was dadelik ’n gunsteling by Europeërs wat in ons land aangekom het – dit is reeds die eerste keer aan die einde van die 17de eeu van Afrika na Europa uitgevoer.