Fantastiese Fuchsias

divider

Flowering plants

Fantastiese Fuchsias

Fuchsias gee ’n tikkie glans aan enige tuin en is uiters geskik om aan die rand van tuinbeddings wat in gedeeltelike skadu is, geplant te word. Dié mooi struike met hul ballerina-vormige blomme is te kry in ’n wye verskeidenheid kleure, van delikate pastelle tot treffende pers en rooi variëteite.

Wil u u eie fuchsias kweek? Dit is wat u moet weet :

Fuchsias groei die beste in grond wat goed dreineer in spikkel- of gedeeltelike skadu en moet geplant word op plekke waar dit teen die wind beskut is. Dit sal ook goed groei in houers, mits u seker maak die houers dreineer goed deur groot klippe onder die pot te sit.

Wanneer fuchsias geplant word, berei die grond vooraf voor deur heelwat kompos en superfosfaat met die grond van die gat te meng. Maak ’n gat wat groot genoeg vir die plant is en haal die fuchsia versigtig uit sy houer – maak seker u maak nie die wortels seer nie. Sit die plant in die gat, druk vas en maak goed nat.

Fuchsias is hongerige plante en moet een keer per maand gevoed word, totdat die blare begin terugsterf (gewoonlik by Maart). Aan die begin van die groeiseisoen (September) moet hulle gevoed word met ’n kunsmis wat hoë vlakke stikstof bevat, soos 3:2:1. Wanneer die plant begin blom, voed dit met kunsmis met hoë vlakke kalium, soos 3:1:5, om goeie blomontwikkeling aan te moedig.

Fuchsias moet gereeld water kry in droë weer, maar maak seker die grond raak nie deurweek nie omdat die plant nie van nat wortels hou nie. Gee altyd vroeg in die oggend water (en nie laat in die aand nie), aangesien fuchsias vatbaar is vir swamsiektes as hulle oornag nat bly.

Het u geweet? Daar is twee hoofsoorte fuchsias: die bosvariëteite en die rankvariëteite. Van die bosvariëteite wat maklik is om te kweek, is Snowcap, Beacon en Winston Churchill. Vir sukkelvrye rankvariëteite, kies Merry Mary, RAF en La Campanella.

Shop online

divider