Perfek vir Patio’s

divider

DIY and how-to

An aerial view of a contemporary outdoor seating area with grey cushioned lounge chairs and potted plants, on a slatted wooden deck.

Perfek vir Patio’s

Die geskikte plante op ’n patio is net so belangrik soos die afronding aan die goedontwerpte binnekant van ’n huis. Met die regte keuse van houers en plante is die patio nie meer net ’n ‘ruimte’ nie, maar neem sy eie unieke karakter aan.

Houerkeuse

Daar is ’n geweldige verskeidenheid houers waaruit gekies kan word en dit sal die atmosfeer van die patio beïnvloed. Geometries gevormde houers in ’n formele rangskikking gee ’n eietydse voorkoms, terwyl geglasuurde groen of akwakleurige potte duidelike Oosters is. Terracotta-houers pas by enige Mediterreense tema, terwyl ryklik versierde potte van veselsement tydloos klassiek is. Gelukkig is die kothuisstyl so gewild soos altyd en laat toe vir ’n verskeidenheid houers, sowel as hangmandjies, wat na willekeur rangskik word.

Maak seker u kies die regte grootte houer – vir sy posisie, sowel as die plant of plante wat daarin gaan kom. Groot houers vol plante vertoon mooier – en het minder water nodig – as klein potte.

Die groepering van houers is mooier as wanneer dit net rond en bont neergesit word. Sit die groter houers aan die agterkant en kleiner houers voor. Plaas plante in ’n medium of groot houer volgens hul uiteindelike hoogte, met hoë plante na die middel toe en kleineres by die rand.

As ruimte beperk is, benut vertikale ruimte met potte wat aan ’n muur vasgesit word. Andersins kan u ’n paar groot, regop houers kies wat in die hoeke van u patio geplaas word.

Kies van plante

  • Die belangrikste faktor is of u houer in die son of skadu gaan wees. As dit in die skadu gaan wees, kies plante wat in die skadu groei, en andersom.
  • Nog ’n oorweging is hoeveel tyd en aandag u aan u plante wil gee. Plante wat min water benodig, is makliker om te versorg, maar kan steeds pragtig lyk. Voorbeelde sluit in vetplante, bougainvillea, felicia, pelargonium, gazania, guara en ficus.
  • Kies immergroen struike vir u houers as u dit regdeur die jaar mooi wil hê. Kleurryke seisoenale jaarplante kan om die struik geplant word.
  • Kies plante wat by die houer pas. In ’n lae houer gaan die fokus op die plante wees, terwyl ’n dekoratiewe pot net so ’n deel van die versiering gaan wees as die plante daarin. Rankplante is geskik vir groot houers en hangmandjies.
  • Gebruik rankplante om die rande te versag. Voorbeelde is Helichrysum petiolare, lobelia, kappertjie, rankpetunia en verbena.