Boomplantmaand

divider

Trees, hedges and borders

Boomplantmaand

Waar dit vandaan kom ….

Die wonderlike idee om van boomplanting ’n spesiale geleentheid te maak wat stedelike vergroening aanmoedig, het ontstaan by ’n man met visie, J.Sterling Morton. Die eerste boomplantdag in 1872 was net gemik op die staat Nebraska in die VSA, maar tog is meer as ’n miljoen bome geplant, danksy Morton se passie en organisatoriese vermoëns.
Bridesy Northrop, ’n boorling van Connecticut, het begin met die beweging om dié vrolike dag wêreldwyd te laat posvat toe hy Boomplantdag en die boodskap van die Verbetering van Dorpe na Japan geneem het, waar dit geesdriftig aanvaar is. Hy het dit later ook in Australië, Kanada en Europa bekend gestel. Vandag vier lande die wêreld oor Boomplantdag met boomaanplantings.
Suid-Afrikaners hou so baie van die konsep, dat ons Boomplantdag reeds Boomplantweek geword het en nou het u ’n volle maand waarin u kan inspring en bydra om die omgewing te verbeter deur ’n boom te plant!

Hoe u kan help …

Plant ’n boom: Kies ’n goeie plek in u tuin en maak van die boomplanting ’n klein seremonie met u gesin. Kinders sal daarvan hou om te sien hoe u boom groei en u kan van die geleentheid gebruik om hulle te leer van aardverwarming en hoe bome help om die lug te suiwer. Dit hou ’n soort bekoring in om deur die jare te sien hoe die boom wat u self geplant het, groei.
 
Laat ’n boom plant: Skenk ’n boom aan ’n skool of kontak enigeen van die wonderlike boomplantorganisasies wat bestaan. Gee net ’n klein donasie en hulle sal seker maak ’n boom word namens u geplant: Trees for Africa, Trees for Schools en Greenpop is net drie van die baie wonderlike organisasies waarna u kan kyk.
Terloops, Trees for Africa bied vanjaar ’n ‘Boomplantuitdaging’ aan en hulle moedig boomplanters aan om hul nuut aangeplante boom op hul databasis te registreer. Besoek hul webtuiste en kyk ’n bietjie daarna!

Pretfeit ….

Studente word dikwels deur die volgende vraag onkant betrap: kan u die antwoord raai?
 
As ’n boom een meter per jaar groei en jy sit ’n plaatjie aan die stam vas op ’n hoogte van een meter, hoe hoog teen die stam op sal dit oor vyf jaar wees?